Voeg nuwe kommentaar by

Gratis Aflyn Afrikaanse Speltoetser

Een van die vrae wat die meeste opduik sedertdien ek my aanlyn speltoetser vrygestel het, is hoe om die sagteware te bekom sodat dit aflyn gebruik kan word. Alhoewel die aanlyn speltoetser nie vir hierdie doel ontwerp was nie, laat die Afrikaanse woordeboek wat agter die speltoetser sit dit tog toe. Nou dat ek uitgepluis het hoe om dit te doen, het ek besluit om hierdie proses te dokumenteer. Dit sal mens dan in staat stel om beide die aanlyn en aflyn speltoetsers te gebruik, afhangend van die behoeftes vir 'n spesifieke situasie.

Nou, voordat ons begin met die werklike werk, laat ons eers kyk na die gratis sagteware en data wat dit als sal moontlik maak. A populêre alternatief vir Microsoft Office is die gratis kantoor suite deur OpenOffice.org (of OOo afgekort). Hierdie suite hardloop op verskeie bedryfstelsels , soos Microsoft Windows en GNU Linux, en dit sluit toepassings soortgelyk aan Microsoft se Word, Excel en PowerPoint in. Om jou teks dokumente, spreiblaaie en aanbiedings te skep, gebruik mens OpenOffice.org se Writer, Calc en Impress programme. Die gratis aflyn Afrikaanse speltoetser kan geïntegreer word met hierdie suite van toepassings. Terloops, OpenOffice.org weergawe 1.1.4 is die huidige stabiele weergawe wat gebruik is vir hierdie bespreking, maar 'n nuwe weergawe 2.0 behoort binnekort beskikbaar te wees en hopelik verander dit nie die proses om die aflyn Afrikaanse speltoetser te installeer te veel nie (voeg gerus jou kommentaar hieronder by wanneer die tyd aanbreek).

Met die sagteware program geïdentifiseer stap ons nou aan na die ander bestanddeel om jou aflyn Afrikaanse speltoetser te bou, naamlik die woordeboek (oftewel, die leksikon of woordelys). Hiervoor het ons Translate.org.za om te bedank vir die vrystelling van 'n gratis Afrikaanse woordeboek onder 'n redelike vrydenkende lisensie (d.w.s., die “Lesser GPL” of LGPL, vir die tegniese georiënteerdes), waarmee my aanlyn Afrikaanse speltoetser ook moontlik gemaak is. Die moeilike gedeelte is slegs om uit te pluis watter lêers gebruik moet word, maar later meer hieroor.

So, heel laas kom ons by die werklike proses om jou eie “gratis” aflyn Afrikaanse speltoetser te skep. Ek sal aanvaar dat jy reeds OpenOffice.org afgelaai en geïnstalleer het (maar wees gewaarsku dat hierdie 'n goeie wyle kan meen met 'n stadige Internet verbinding, met oor die 64MB in grootte vir die installeerder van weergawe 1.1.4 – oorweeg dus om eers jou Internet verbinding op te gradeer na iets soos iBurst). Die installering van 'n eie speltoetser woordeboek kan geoutomatiseer word, maar ek het die proses per hand maklik genoeg gevind sonder om addisionele onsekerhede mee te sleep. Dit kom op die volgende neer.

  1. Die Afrikaanse woordeboek vir OpenOffice.org bestaan eintlik slegs uit die volgende twee lêers wat geïnstalleer moet word:
    • af_ZA.aff
    • af_ZA.dic
    Volgens die voorgestelde konvensie van OpenOffice.org behoort hierdie lêers tipies verpak te word in 'n ander lêer met die naam af_ZA.zip waarvandaan hulle behoort onttrek te word. Om hierdie lêers te vind (of eerder, die mees onlangse aanpasbare weergawe hiervan) draai uit om die moeilikste taak te wees. (Pos asseblief kommentaar indien jy weet hoe dit werk, aangesien ek steeds onseker hieroor is.) Probeer hierdie lêer aflaai vanaf Translate.org.za, òf op sy eie (met die naam af_ZA.zip, af_ZA-1.99.1.zip, of soortgelyks), òf bevat binne 'n ander lêer met 'n naam soos af_ZA-pack.zip (byvoorbeeld, pack-af-ZA-1.99.1.zip). Ek het eintlik 'n ander weergawe gebruik (klaarblyklik nuwer) van dié by die skakel hierbo vrygestel, wat ek aanvanklik by SunSITE.dk (die voorganger van dotsrc.org) gevind het.
  2. Sodra jy die twee lêers (af_ZA.aff en af_ZA.dic) onttrek het, kopieer dit binne-in die ...\share\dict\ooo sub-gids wat gevind kan word waar jy OpenOffice.org geïnstalleer het (byvoorbeeld, kyk onder C:\Program Files\OpenOffice.org1.1.4\...).
  3. In dieselfde gids waarna die twee lêers gekopieer is, sal jy 'n ander lêer vind met die naam dictionary.lst, waarby jy die volgende lyn aan die einde moet byvoeg met jou gunsteling teksredigeerder.
    DICT af ZA af_ZA
  4. Tensy OpenOffice.org ten volle oor begin word, insluitend die geheue-residensiële QuickStarter (dis nou die kleinskets in jou taakstafie), sal die nuwe woordeboek nie herken word nie. Die eenvoudigste vir meeste mense is seker net om die masjien oor te laat begin.

Die instruksies hierbo aanvaar dat jy op Microsoft Windows hardloop, maar dit blyk dat hierdie ook grotendeels van toepassing is op Linux, behalwe dat die installasie gids anders sal wees (sien die instruksies deur Garry Knight vir aanvullende Linux installasie besonderhede).

Natuurlik is daar steeds my aanlyn speltoetser as jy al hierdie moeite ontsien om 'n aflyn speltoetser te installeer. Maar ten minste het jy nou nog 'n alternatief vir wanneer jy op jou eie rekenaar werk en nie maklik toegang tot die Internet het nie.

Beantwoord



Die inhoud van hierdie veld is privaat en word nie aan die publiek vertoon nie.


*

  • Toegelate HTML tags: <a> <em> <strong> <cite> <code> <ul> <ol> <li> <dl> <dt> <dd>
  • Lyne en paragrawe skei outomaties.