Voeg nuwe kommentaar by

Afrikaanse Speltoetser op die Internet

Dit het 'n goeie klompie werk van my kant gekos, maar ek is bly dat ek nou uiteindelik 'n Afrikaanse speltoetser op die web beskikbaar kan maak. Ek hoop dat ander hierdie stukkie sagteware ook so handig soos ek sal vind. Soos ek elders genoem het werk die speltoetser beslis met die Firefox 1.0 en Internet Explorer 6.0 webblaaiers, maar hopelik ook met ander.

Hierdie speltoetser is seker nie die mees gevorderde een wat jy sal kan vind nie, maar dit is waarskynlik die beste een wat jy tans sal kan kry sonder dat jy daarvoor hoef te betaal. Dit is veral handig om eenvoudiger woorde met spelfoute uit te wys, daardie wat tipies verkeerd gespel word deur blote vinger foute terwyl jy tik. Maar Afrikaans is mos een van daardie tale waar die spelreëls ons toelaat om onder sekere omstandighede woorde vas te skryf (so asof enige normale persoon nog ooit die reëls kon onthou), en dit gee natuurlik aanleiding tot 'n groot aantal samestellings en verbuigings van woorde wat nie so goed deur hierdie speltoetser gehanteer word nie. Ten spyte van die beperkings voel ek tog opgewonde oor hierdie Afrikaanse speltoetser en dink dat dit handig te pas kan kom, veral vir diegene wat nie toegang het tot ander opsies nie of sommer net vinnig 'n stukkie Afrikaans wil speltoets wanneer jy dalk by die werk, universiteit of iewers oorsee by 'n Internet kafee is.

Ek wil tog darem ook net die twee kommersiële Afrikaanse “speltoetsers” waarvan ek weet uitwys vir diegene wat dalk daarin sou belangstel. Die een produk staan bekend as die “Afrikaanse Speltoetser 2.1 en Woordafbreker vir Microsoft Office”. Soos die naam dit duidelik maak integreer hierdie speltoetser homself binne-in die Office produkreeks van Microsoft, wat natuurlik Microsoft Word insluit. Hierdie speltoetser is spesifiek vir Office weergawes 2000, XP en 2003 bedoel, maar ouer weergawes van die speltoetser word ook ingesluit wat blykbaar werk met Word weergawes 6.0 en 7.0. Die integrering van die sagteware maak dat die speltoetser ook beskikbaar is in programme soos Outlook Express sodat mens selfs jou eposse se spelling kan nagaan. Die speltoetser is gebaseer op navorsing aan die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT) by die Noordwes-Universiteit (Potchefstroom), en ek vermoed dit het betrekking op (seker onder andere) Prof. Gerhard van Huyssteen se werk. Dit is beskikbaar by Kalahari.net, asook www.spel.co.za (waar 'n Afrikaanse Tesourus ook aangeskaf kan word), dalk in die winkels van Protea Boekhuis (na aanleiding van hulle embleem op die agterkant van die verpakking), Bowline en moontlik ook by verskeie ander plekke. Ek is egter onseker of hierdie produk na die buiteland uitgevoer mag word, wat ek dink 'n tragedie sal wees aangesien Afrikaanssprekendes in die buiteland moontlik 'n speltoetser meer nodig mag hê (afhangend van hoe lank hulle al oorsee bly). Die produk se Afrikaanse lisensie stel dit tydens installasie baie duidelik dat uitvoer nie toelaatbaar is nie, maar snaaks genoeg noem die Engelse weergawe van die produk se gebruikerslisensie dit gladnie. So watter een moet mens nou glo? Of dalk bedoel hulle dit is toelaatbaar om 'n vriend of vriendin, wat nie 'n woord Afrikaans verstaan nie, te vra om die produk vir jou aan te skaf, landuit te neem en dan as geskenk te gee. :)

Die tweede produk waarvan ek bewus is, maar geen persoonlike ondervinding mee het nie, is die “Pharos 5-in-1 Dictionaries/Woordeboeke”. Dis 'n CD-ROM en is tans by Kalahari.net, Leserskring, Bowline en seker ook elders beskikbaar. (Om ons te vermaak het Leserskring dit in die “speelgoed” kategorie gaan plaas.) Dit sluit blykbaar twee Afrikaanse en drie tweetalige (Afrikaans-Engels) woordeboeke in, en dit behoort op feitlik enige weergawe van Microsoft Windows te werk. Die CD kos so bietjie meer as die speltoetser hierbo, maar sluit debatteerbaar meer funksionaliteit in. Dit wil egter vir my voorkom of hierdie Pharos sagteware 'n losstaande produk is en dus nie integreer met Microsoft Office soos die ander speltoetser nie. Jy moet klaarblyklik self jou woorde opsoek en nagaan indien jy na speltoetser funksionaliteit opsoek is, maar aan die ander kant sluit hierdie vyf woordeboeke (sover ek kan vasstel) die volgende in: 'n verklarende Afrikaanse woordeboek (dalk iets soortgelyks aan die HAT, oftewel die “verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal”), 'n Afrikaanse tesourus (wat jy apart moet koop indien jy die CTexT speltoetser sou aanskaf), die tweetalige Groot Woordeboek, Tweetalige Frasewoordeboek, asook die tweetalige Nuwe Woorde (ek weet nie of jy werklik “Internet” meer hier sal kry nie – dit bestaan darem minstens vir een generasie lank al; en het ons al 'n Afrikaanse woord vir die Amerikaanse “hip hop”, of is dit ook al ou nuus). Ek wonder of hierdie produk na die buiteland geneem mag word – want wie wil nou regtig daardie groot swaar HAT woordeboek op 'n vliegtuig saam met al jou ander bagasie dra?

Dit wil eintlik vir my voorkom of hierdie twee kommersiële produkte mekaar eerder aanvul as wat hulle regtig met mekaar kompeteer. En ek kan dieselfde van my aanlyn speltoetser sê. Maar onhou net, as jy nie seker is oor hoe om 'n woord te spel nie, of selfs 'n paragraaf of twee gou wil nagaan, gebruik gerus my gratis Afrikaanse (of Engelse) speltoetser.

NS: Intussen het ek ook uitgevind van die “Pharos Speller: Speltoetser en Woordafbreker vir Afrikaans” wat onder andere by Kalahari.net beskikbaar is. Hmmm, lyk my ons begin tog nou van kompetisie te praat... Ek wonder of hierdie speltoetser dalk 'n alternatiewe opsie vir die oorsese familie en vriende is?

Beantwoord



Die inhoud van hierdie veld is privaat en word nie aan die publiek vertoon nie.


*

  • Toegelate HTML tags: <a> <em> <strong> <cite> <code> <ul> <ol> <li> <dl> <dt> <dd>
  • Lyne en paragrawe skei outomaties.